Nuclearisation of Africa - Conference in pictures

Ode aan SA se Erin Brockoviche

Written by  Adriaan Basson Tuesday, 17 June 2014 23:45
Rate this item
(0 votes)

Moenie met ’n vrou mors nie, jy sal tweede kom.
Suid-Afrika het ’n trotse geskiedenis van brawe vroue wat hier opgestaan het vir wat reg is.
Frances Baard, Helen Suzman, Lilian Ngoyi, Patricia de Lille, Mariette Liefferink, Charlotte Maxeke, Irene Grootboom, Thuli Madonsela, Mamphela Ramphele en Sophia Williams-De Bruyn is almal vroue wat ons gedeelde geskiedenis ten goede verander het en steeds doen. En Emily Hobhouse, wat onthou sal word vir haar ontbloting van die gruwels in die Boere-konsentrasiekampe.

Deur Adriaan Basson

 


Vandag wil ek nog twee name by hierdie lysie voeg: Glynnis Breytenbach en Christine Anderson. Want hier reg onder ons neuse is hierdie twee brawe vroue besig om geskiedenis te maak.
Albei voel te na gekom deur twee van ons kern- demokratiese instellings: die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die weermag. En albei het besluit tot hier toe en nie verder nie.
Hulle verdedig – teen ’n groot geldelike en persoonlike koste – hul name en dit wat reg is.
Hul gedeelde opponent is ’n hardkoppige regering wat alles in die stryd sal werp om pres. Jacob Zuma te beskerm teen enige vorm van vervolging of bevraagtekening. Die hardkoppigheid word gefinansier uit ’n skynbaar bodemlose put van belastinggeld.
Breytenbach is nou al amper 18 maande lank uit haar pos as hoof van die NVG se handelsmisdaadtak in Pretoria. Dít nadat sy onskuldig bevind is in haar tugverhoor en die voormalige waarnemende hoof van die NVG, die hoogs problematiese adv. Nomgcobo Jiba, belowe het sy kan terugkeer na haar pos aan die einde van die verhoor.
18 maande later baklei Breytenbach steeds. Dít terwyl die NVG nou nie juis oorloop van talent nie en ’n aanklaer van Breytenbach se kaliber broodnodig het om die gróót skelms te vervolg.
Die storie loop mos só: Breytenbach wil lt.kol. Richard Mdluli aankla van korrupsie. Sy wil ook vir Imperial Crown Trading (ICT) in die hof sien oor die omstrede Sishen-mynlisensie wat aan die maatskappy toegeken is.
Wie is Mdluli? ’n Zuma-lojalis wat trou aan die president belowe het in die aanloop tot Desember se ANC-konferensie in Mangaung. As hoof van misdaadintelligensie het Mdluli toegang gehad tot dieselfde geheime (waarskynlik onwettige) opnames wat Zuma gebruik het om sy eie korrupsieverhoor vry te spring.
Wie is ICT? ’n Onbekende mynmaatskappy (sonder myne) wat deels besit word deur die Gupta-familie en adj.pres. Kgalema Motlanthe se meisie.
Toevallig dat die NVG alles in die stryd werp om Breytenbach se terugkeer te verhinder? Ek dink nie so nie.
Anderson bevind haar in ’n soortgelyke posisie. Drie maande voor haar aftrede kry sy in April ’n oproep van Bruce Koloane, hoof van staatsprotokol.
“Nommer Een,” sê Koloane aan haar, wil hê die Gupta-familie se bruilofsvlug moet op die Waterkloof-lugmagbasis land. “Nommer Een” is die staatshoof en Anderson voer haar opdrag uit.
Koloane het mos geen rede om vir haar te lieg nie? En hy noem “Nommer Een” nie net een keer nie, maar vertel haar ook van ’n vergadering wat hy met Zuma gehad het en dat die president wou weet of alles vir die landing in orde is.
Ná die landing bars alle hel los en koppe moet rol. Zuma se regering stel ’n ondersoekspan van ministers aan om hulself te ondersoek. Hulle bevind Koloane het gelieg (maar vra nie waarom nie) en dat Zuma se hande skoon is.
Koloane is terug by die werk. ’n Militêre verhoor staar Anderson in die gesig, maar sy gaan nie lê nie. Die waarheid maak seer en verlede week het sy Zuma onder eed geïmpliseer in Guptagate.
20 jaar ná vrywording is die uitkoms van Breytenbach en Anderson se sake ’n lakmoestoets vir ons demokrasie