Mining News

Tuesday, 11 February 2014 04:43

Mintails staan stil

Written by 
Rate this item
(0 votes)

Die beleërde myngroep Mintails, wat goudherwinning uit ou mynhope aan die Wesrand doen en reeds vir langer as n week stil staan, het nou ook waarskuwings van die departement van waterwese ontvang.

Mintails het eergister 'n ernstige waarskuwing van die departement van waterwese ontvang weens dié departement se bekommernis oor swaar en radioaktiewe metale wat vermoedelik in die Wonderfonteinspruit beland en Potchefstroom se dinkwater ernstig bedreig.

Mintails het in Desember verlede jaar ook 'n opdrag (direktief) van die departement van minerale bronne gekry om alle stortings onmiddellik op te ruim.

Op 22 Januarie het die Johannesburgse hooggeregshof Mintails beveel om sy werksaamhede onmiddellik te staak nadat inwoners van Kagiso onder meer gekla het hul huise kraak omdat dié mynhuis naby hul woongebied met dinamiet skiet.

'n Woordvoerder van die departement van waterwese wat anoniem wil bly, het by navraag gesê 'n afvaardiging van sy departement het op 12 Desember Mintails se myngebied tussen Randfontein en Krugerdorp saam met Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir 'n Volhoubare Omgewing (FVO) besoek. Beeld het ook die besoek meegemaak.

Die amptenaar het gesê: "Dit wat ons gesien het, was skokkend. Suur mynwater het oral in damme gestaan en mynslik het uit gebaste pype geloop."

Eddie Milne, hoof finansiele bestuurder van Mintails, het in reaksie gesê die myngroep het Maandag 'n waarskuwing van die departement van waterwese ontvang om sekere verduidelikings oor hul waterlisensie en grondgebruik aan die owerheid te maak. Hy het gesê Mintails is besig met die rehabilitasie (deur die verwydering van goudstof uit die mynhope) van die opvangsgebied van die Wonderfonteinspruit en dat juis dit die waterkwaliteit aansienlik gaan verbeter.

Milne het gesê hy is nie seker wanneer Mintails sy werksaamhede gaan hervat nie, maar die myngroep is in dringende samesprekinge met die reguleerders.

Nomvula Mokonyane, Gautense premier het verlede week in 'n verklaring gesê sy verwelkom die feit dat Mintails se werksaamhede gestaak is omdat dié myngroep mense se lewens in gevaar gestel het met onder meer die skiet van dinamiet naby huise.

Read 6338 times Last modified on Friday, 06 November 2015 05:50