News from Affiliates

Nuwe myn ‘sal duisende hul huise kos’

Written by  Elise Tempelhoff Wednesday, 31 May 2017 09:22
Rate this item
(0 votes)

Byna 10 000 mense sal verskuif moet word as Anglo Operations Ltd en Canyon Coal hul sin kry om ’n massiewe oopgroefsteenkoolmyn oos van Springs te begin.

Die myn lê stroomop van die Blesbokspruit by Aston Lake.

 

Ontstelde inwoners van die gebied sê hul menseregte sal geskend word as die Palmietkuilenmyn die groen lig van die department van minerale bronne kry.

 

Volgens die omgewingsimpakverslag vir die beoogde myn is dit noodsaaklik dat steenkool in Suid-Afrika ontgin word om in die land se behoeftes te voorsien en ’n kragkrisis te voorkom.

 

Stefaans Erasmus, inwoner van die gebied, sê as die myn goedgekeur word, gaan die Marievale Ramsargebied opdroog, produktiewe plase sal moet sluit en duisende mense wat in ’n informele nedersetting woon, sal verskuif moet word.

 

Luidens die impakverslag wat opgestel is deur die omgewingskonsultante Digby Wells sal die beoogde oopgroefmyn maandeliks 200 000 ton steenkool lewer. Die maatskappy sê steenkool is ’n baie belangrike deel van Suid-Afrika se energiemengsel. Die beoogde myn gaan sowat 201,9 ha (die grootte van sowat 400 rugbyvelde) beslaan. Die myn se infrastruktuur gaan vleie vernietig wat op sowat 53,3 ha (106 rugbyvelde) voorkom. Vyf panne gaan ook in die slag bly. Die myn se leeftyd word op 53 jaar gestel.

 

Digby Wells erken in die verslag die beoogde myn word beplan in ’n “ekologies sensitiewe gebied”.

 

Philip de Jager, regsverteenwoordiger van ’n groot groep mense wat deur die beoogde myn geraak gaan word, sê die inwoners skop vas en sal nie toelaat dat Anglo met sy planne voortgaan nie.

 

Hy skryf in ’n brief aan die departement van minerale bronne dit is vreemd dat Eskom in die volgende paar jaar vier kragstasies wil sluit omdat daar ’n oormaat krag in die land is. Mense bespaar krag en wend hulle al hoe meer tot sonenergie.

 

Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO), wie se hulp deur die inwoners ingeroep is, sê dit is skokkend dat die staat toelaat dat ’n gebied wat ekologies so waardevol is potensieel aan mynboubedrywighede onderwerp word.

 

Sy sê die regering moet nou reguit vir die mense van Suid-Afrika sê of hulle die hele land “wil laat opmyn”.

 

Pleidooie om ekologies sensitiewe gebiede te vrywaar teen mynbou het die afgelope agt jaar op dowe ore geval, het sy gesê.

 

Moeketsi Mofokeng, woordvoerder van Anglo Coal, het gesê hy sal later meer besonderhede verskaf oor dié maatskappy se oënskynlike voortgesette belange in steenkool.

 

Anglo het onlangs aangekondig hy gaan sy steenkoolmyne in Suid-Afrika verkoop.

 

Belanghebbendes het tot Maandag kans om kommentaar op die omgewingsimpak te lewer. Dit is verkrygbaar op Digby Wells se tuisblad.