“Omgewingsramp dreig as suur water uitborrel”

Die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO) wil die regering hof toe vat om hom te dwing om van die myne aan die Wes-Rand te help om suur mynwater te beheer.

Dié water gaan vermoedelik “binne dae” by skagte en fonteine begin uitborrel.

 

Die 45miljoen m³ aan die Wes-Rand wat die afgelope 120 jaar uitgemyn is, word tans met miljoene liters ondergrondse water opgevul. Dit is nou 1 cm van die oppervlak, sê mnr. Sarel Keller, omgewingsbestuurder van Rand Uranium (voorheen Harmony).

As dit as suur mynwater uitloop, sal dit ’n omgewingsramp veroorsaak wat alles in sy pad gaan vernietig. Keller is veral bekommerd oor die uitwerking wat dit op die plant- en dierelewe in die Krugersdorp-wildtuin gaan hê.

Me. Mariette Liefferink, direkteur van die FVO, het gesê die Regshulpraad het sy steun vir ’n strafregtelike saak teen die regering aan dié nie-regeringsorganisasie gegee. Liefferink het gesê as die regering nie onmiddellik ingryp om ’n omgewingskrisis aan die Wes-Rand te help keer nie, gaan die FVO ook konstitusionele hof toe omdat mense se regte op ’n skoon en veilige omgewing geskend word.

Die ondergrondse water was in Julie 80?cm van die oppervlak, maar weens hewige reënbuie het dit die afgelope ses maande so gestyg dat dit nou feitlik teen die oppervlak is.

Mnr. Marius Keet, adjunk-direkteur van watergehalte-bestuur, het gesê al die myne aan die Wes-Rand sal nou moet kragte saamsnoer om die water uit die holte onder die Wes-Rand te pomp en te suiwer voordat dit in die omgewing beland.

In dié stadium pomp en suiwer net Rand Uranium en Mintails (wat besig is met die herwinning van goud uit die ou mynhope) sowat 25 megaliter water per dag uit die uitgemynde holte. Hulle suiwer die water deur dit met kalk te behandel voordat dit in die Tweelopiespruit, ’n sytak van die Krokodilrivier, gestort word.

Mnr. Rex Zorab, senior konsultant vir volhoubare ontwikkeling by Rand Uranium, het gesê dié myngroep doen sy bes om die water te probeer beheer, maar die watervlak styg nou so vinnig dat dit “oorweldigend” word. Rand Uranium het nou geen ander keuse nie as om water so vinnig moontlik uit te pomp en in die Robinsonmeer en die Portugese dam te stort.

Liefferink het gesê dis “ ’n futiele operasie” omdat die water dan in sirkels gepomp word. Die Robinsonmeer en die Portugese dam is albei in die opvangsgebied van die Tweelopiespruit.

Omgewingskundiges en geoloë waarsku as die mynwater onbeheers by die fonteine en skagte begin uitborrel, sal dit ook ’n vernietigende uitwerking op die Sterkfonteingrotte en die Hartbeespoortdam hê.

Die feite

Die water wat in die holte onder die Wes-Rand opvul, is met swaar metale besoedel omdat dit ondergronds met veral piriet in die oopgeboorde mynleegte in aanraking kom. Sodra dit bo-gronds met suurstof in aanraking kom, verander die chemiese samestelling daarvan verder en word dit suur mynwater wat dodelik is vir mens, dier en plant.

Suur mynwater aan die Witwatersrand het in 2002 by ’n ou ventilasieskag sowat 100m van die Krugersdorp-wildtuin begin uitborrel. Die regering het die myne daarna opdrag gegee om die water uit die leegte tot ’n vlak van 2,5m onder die oppervlak te pomp en dan te suiwer. Van die myne het intussen gesluit.

Honderd-en-twintig jaar gelede was daar 36 fonteine by Randfontein wat intussen weens mynbou opgedroog het.

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top