Regstappe kan kom oor myn se megahoop

Raatskraal (Fochville). – Boere in dié “onbesoedelde” omgewing dreig met regstappe as Harmony Gold voortgaan met sy planne om ’n megamynhoop bo-op ’n mielieland, in ’n vlei en gedeeltelik op ’n rivier op hul voorstoep op te rig.

Die megahoop gaan sowat 800 ha, of meer as 1 400 rugbyvelde, beslaan en 37 m hoog wees.

Mnr. Fanie Muller, ’n boer wat reg oorkant die beplande massiewe mynhoop gaan woon, het Saterdag gesê pleks van om te sien “waar die reën vandaan kom”, gaan hy voortaan in die mynhoop vaskyk. Die mynhoop gaan net so hoog soos Senwes se silo wees, het hy gesê. As hy by sy agterdeur staan, kyk hy in die silo vas.

Tientalle boere, waaronder hoender-, sonneblom-, bees- en wildboere sal moet oppak en trek. Boonop gaan die beplande mynhoop ’n reuse-vleiland en ook ’n deel van die Leeuspruit beslaan. Die Leeuspruit loop later in die Rietspruit in wat by Loch Vaal in die Vaalrivier inloop.

Luidens ’n dokument waarin Harmony kommentaar vra met die oog op ’n voorlopige omgewingsimpakstudie, wil hy goud en moontlik ook uraan uit sy bestaande mynhope by Randfontein herwin en die afval per pypleiding na dié landelike omgewing pomp.

Die proses, wat voorlopig einde vanjaar sal begin, sal tussen 12 en 15 jaar duur. Dit sal 400 tydelike en 150 permanente werkgeleenthede skep.

Die boere het nou ’n petisie onderteken waarin hulle Harmony versoek om sy plan te heroorweeg.

Hulle stel voor dat Harmony met Mintails, ’n ander groep, saamspan om een groot megahoop by Witfontein, 22 km van Krugersdorp, te vorm.

Mintails het reeds met boere in die omgewing van Witfontein onderhandel vir die vestiging van húl reuse- mynhoop.

Mintails gaan goud, sowel as uraan uit hul ou mynhope in die omgewing van Randfontein en Krugersdorp herwin en 10 km verder na Witfontein pomp.
Boere het Saterdag tydens ’n vergadering hier gesê hulle gaan “alles” verloor as Harmony Gold se planne nie gestop word nie.

As Harmony verseg om van sy planne af te sien, sal hulle moet hof toe gaan, was die eenparige besluit.

Harmony Gold beplan om tien van sy myne se mynsand in die omgewing van Randfontein 45 km verder per pypleiding te pomp na dié gebied sowat 12 km buite Fochville.

Die boere in die Raatskraal-omgewing is veral bekommerd oor lug- en waterbesoedeling van Harmony se beoogde megahoop af. Die feit dat die mynslik vol swaar metale, soos uraan, kadmium en sianied gaan wees, hou ’n ernstige gevaar in vir mens, dier en die Vaalrivierstelsel.

Harmony het glo al met van die boere oor ’n prys vir hul onderhandel. Dié boere was nie Saterdag by die vergadering nie.

Mnr. Rex Zorab, hoofbestuurder by Harmony belas met die omgewing, het gesê Harmony oorweeg tans alle opsies.

Me. Mariette Liefferink, uitvoerende hoof van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO), wat die boere verteenwoordig, het tydens die vergadering gesê Harmony wil nou hul besoedeling verplaas van Randfontein na die plase en kleinhoewes by Kalbasfontein en Raatskraal.

www.beeld.co.za

Elise Tempelhoff

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top