Staat gekap oor myne in vleie

Die departement van mine- rale en energie is “kort- sigtig” om lisensies toe te staan aan mynmaatskappye wat steenkool in vleilande wil ontgin.

Dié steenkool het geen langtermyn ekonomiese waarde nie “en net vir ’n paar individue”.

Trouens, dit vernietig die land se kosbare, skaars waterbronne.

Só het die Wêreldnatuurfonds (WWF) en die Botaniese Vereniging gister in ’n gesamentlike verklaring gesê.

Luidens die verklaring is dié twee bewaringsorganisasies “diep bekommerd” omdat riviere, waaronder die Vaal-, Komati-, Tugela- en Usuthu, wat almal in Mpumalanga ontspring, bedreig word deur grootskaalse suur afvalwater van myne.

Dié suur mynwater is ’n regstreekse gevolg van steenkoolmynbou. Suur mynwater het reeds verskeie ekostelsels in Mpumalanga vernietig.

Me. Thérèrese Brinkcate, bestuurder van ekostelsels by die WWF, het gesê die Loskop- en Witbank-dam is reeds feitlik vernietig deur suur mynwater.

Mnr. Koos Pretorius, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, het gister gesê daar is “minstens” 13 myne in Mpumalanga wat tans steenkool uit die Komatirivier en uit sy vleie haal sonder dat hulle (volgens wet) toestemming het.

Daar is ook ’n “hele klomp” in die Vaal- en Olifantsrivier bedrywig.

Die departement van minerale en energie het egter aan die meeste van dié myne mynlisensies toegestaan.

“Die departement van minerale en energie tree dus onwettig op.”

’n Groen Skerpioen het onlangs saam met Pretorius gegaan om een van dié myne bokant die Nooitgedachtdam “toe te maak” omdat hulle nie ’n waterlisensie het nie.

Volgens Pretorius het die mynbase hulle uitgelag en gesê die departement van minerale en energie het toestemming gegee.

“Dit is ongehoord. Volgens wet word ’n mynlisensie eers toegestaan nadat ’n waterlisensie uitgereik is.”

Mnr. Mark Botha, bewaringsdirekteur van die Botaniese Vereniging, het gesê dié bewaringsorganisasies is bewus daarvan dat die departement van minerale en energie tans besig is om te probeer om die Omgewingsbestuurwet (Nema) só te verander dat húlle oor omgewingsimpakstudies waarby myne betrokke is, besluite sal kan neem.

“As dié wysigings deur die parlement gemaak word, sal dit ‘n grondwetlike oortreding wees.

“Die departement van minerale en energie het nie die objektiwiteit óf die kundigheid om te besluit oor ’n regverdige omgewingsproses vir mynbou nie.”

Meer as 50% van Suid-Afrika se vleilande is al vernietig. Dus is dit noodsaaklik om die res te bewaar, lui die verklaring. Altesame 44% van Suid-Afrika se riviere word ernstig bedreig.

“Die WWF en die Botaniese Vereniging glo dat die langtermyn ekonomiese waarde van vlei- en graslande wat korrek bestuur en bewaar word, baie groter is as kortsigtige opbrengste van mynbou.”

Die organisasies benadruk dit dat hulle nie gekant is teen mynbou nie, maar dan moet dit korrek gereguleer wees.

Beeld probeer die departement van minerale en energie al vir etlike dae sonder welslae in die hande kry vir kommentaar.

Beeld verneem dat reeds drie lisensies goedgekeur is vir mynbou in provinsiale parke in Mpumalanga.

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top