Ermelo. – “Ons dorp het bloedsteenkool. Die steenkool waarop ons woon, gaan nog ons einde beteken.
“Pleks dat dit vir ons voorspoed bring, bring dit armoede, siekte en die dood,” het me. Amanda Mabilisa, United Christian Democratic Party (UCDP)-raadslid van dié dorp, verlede week gesê op ’n vergadering waar Xstrata Coal, die steenkoolreus, planne bekend gemaak het om vier steenkoolmyne in die Vaal-, Komati-, Usutu- en Olifantsrivier se opvanggebied te begin.
Dit is ’n ent weg van Spitzkop, een van sy bestaande myne in die omgewing.
Mabilisa het gesê dit het tyd geword dat mynhuise die steenkool wat hulle in die waterryke Mpumalanga uithaal, se ware koste begin bepaal.
Xstrata het bekend gemaak die steenkool wat uit die vier myne (op die plase Bloemfontein, Mooifontein, Hartebeesfontein en Sterkfontein) gehaal sal word, is bedoel vir die uitvoermark. Die myne se leeftyd is sowat vier tot 10 jaar.
Dr. Koos Pretorius, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, het gesê as Xstrata se planne goedgekeur word om in hierdie gebied steenkool uit te haal, sal dit die einde van vier groot rivierstelsels in die land beteken.
“As Xstrata bereid is om al die geld wat hulle in die volgende tien jaar met hierdie myne verdien, terug te ploeg in die rivierstelsels en bereid is om die water vir die volgende 4 000 jaar te suiwer, kan hulle gerus maar met hulle planne voortgaan.”
Hy het voorts gesê dit is ironies dat dié steenkool nie bedoel is om Suid-Afrika uit sy huidige energiekrisis te help nie.
’n Emosionele me. Alet Steenkamp het gesê sy het op Hartebeesfontein grootgeword, maar die gesin is later “gedwing” om te verhuis omdat hul water opgeraak het.
Die water wat oor was, was só besoedel, dit was onbruikbaar. Die gesin moes sy melkboerdery noodgedwonge sluit.
“Toe ek ’n kind was, was daar altesame 24 fonteine op Hartebeesfontein. Enkele jare nadat die steenkoolmyn op Spitzkop, langs Hartebeesfontein, oopgemaak het, het die fonteine opgedroog,” het Steenkamp vertel.
Luidens ’n verklaring deur Xstrata wil hy sy bestaande mynboubedrywighede in die Ermelo-omgewing met die oog op die uitvoermark uitbrei.
Daar is na verneem word sowat 15 miljoen t hoë-gehalte steenkool daar.
Mnr. Songezo Zibi, woordvoerder van Xstrata, het gesê die mynreus het R250 miljoen begroot om die water by Spitzkop te suiwer en die omgewing te rehabiliteer.
Beeld: Elise Tempelhoff