Omgewingsaktivis kla by OB nadat sy vergadering belet is

Die hoofamptenaar van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO) wat op ’n vergadering oor die toekoms van die Wonderfonteinspruit en die Mooirivier in Potchefstroom weggewys is, het ’n klag by die openbare beskermer (OB) ingedien.

Me. Mariëtte Liefferink het in ’n brief aan die OB beweer mnr. Ben Nell van die Tlokwe-plaaslike owerheid het haar die reg op vryheid van spraak ontsê toe hy haar by die Kromdraai-forum belet het.

Nell het Liefferink, asook Beeld, gevra om die vergadering te verlaat omdat dit glo “geslote” was.

Liefferink het tydens die vergadering aangevoer sy is deur verskeie nie-regeringsorganisasies benoem om hulle by die Kromdraai-forum te verteenwoordig.

’n Woedende Nell het aan Liefferink gesê sy moet die vergadering verlaat omdat sy nie in die omgewing van Potchefstroom woon nie.

Mnr. Alwyn Laas van Goldfields het sy stem by dié van Nell gevoeg. Beeld is ook gevra hoe hulle van die vergadering te hore gekom het.

Liefferink beweer voorts Nell was nie die voorsitter van die vergadering nie en dat hy sy magte misbruik het.

’n Verteenwoordiger van die departement van waterwese en bosbou het die vergadering gelei.

Liefferink het gesê Nell het haar ook die reg ontneem om belangegroepe by die vergadering te verteenwoordig.

Sy voer aan mnr. Marius Keet, ’n adjunk-direkteur van waterwese en bosbou, het haar uitgenooi om die vergadering by te woon. Keet het Beeld ook toestemming gegee om die vergadering by te woon.

Nell kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Intussen het Keet gesê die regering (die departemente van minerale en energie, omgewingsake en toerisme, waterwese en bosbou, asook die nasionale kernreguleerder) het twee komitees in die lewe geroep.

Die een sal verantwoordelik wees vir die opruiming van uraanbesoedeling in die Wonderfonteinspruit en die ander een vir die rehabilitasie van gebiede met uraanbesoedeling in die res van die land.

Volgens Keet móét die Wonderfonteinspruit nou opgeruim word. Kundiges op verskeie terreine sal binne die volgende paar weke aangestel word om ’n rehabilitasieplan saam te stel.

Hierna sal die myne in die omgewing betrek word.

“Hulle sal die rekening ook op die ou einde moet betaal,” het Keet gesê.

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top