Suur mynwater bereik glo Wieg van Mensdom

Krugersdorp. – Suur mynwater het vermoedelik reeds die Zwartkranskompartement bereik waarin die Wieg van die Mensdom (Sterkfonteingrotte) geleë is.

Dit is ’n kommerwekkende situasie wat dopgehou moet word,” het mnr. Phil Hobbs, navorser van die Wetenskaplike Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), gister gesê by ’n vergadering oor die “krisis” met suur mynwater wat in die Tweelopiespruit beland en deur die Krugersdorp-wildtuin loop.
Die suur mynwater loop ook ondergronds en is opgemerk in ’n boorgat naby die begin van die Zwartkranskompartement, het Hobbs gesê.

Hy het ook daarop gewys dat die Wes-Randse geohidrologie baie kompleks is en dat daar ’n duidelike verband is tussen die oppervlak- en ondergrondse water.
“Die besoedelingspluim (vanaf die ou ventilasieskag en boorgat op Harmony Gold se grond waar suur mynwater ses jaar gelede begin uitborrel het) is besig om verder noordwaarts te beweeg,” het Hobbs gesê.

Mnr. Jaco Schoeman van Mintails en voorsitter van die Western Utilities Corporation (WUC) het erken Harmony Gold het “beheer verloor” oor die water wat op die myngroep se grond uitborrel.
Tydens die reënseisoen oorweldig die water Harmony.

’n Deel van die water word wel skoongemaak en in die Tweelopiespruit gestort, maar dit is ’n “tydelike oplossing”.

“Ons plak nou vir eers maar net ’n pleister op die probleem,” het Schoeman gesê.
Volgens Schoeman gaan die WUC in die volgende twee tot vyf jaar sowat R400 miljoen bestee om suur mynwater halfpad vir nywerheidsgebruik te suiwer.

Schoeman het gesê dié water sal waarskynlik Rustenburg en Vanderbijlpark toe gepomp word vir gebruik deur die platinummyne, asook nywerhede in die Vaaldriehoek.

Hy het gesê Harmony Gold, in samewerking met Mintails, is besig om met alle bestaande myne aan die Witwatersrand te praat oor die uitpomp van die grondwater (wat weens 120 jaar se goudmynbou nou suur is).

Luidens ’n verslag van die Waternavorsingskommissie (WNK) is suur mynwater besig om in ander dele aan die Witwatersrand uit te loop.

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top