Suur mynwater aan Rand veroorsaak

Die Suid-Afrikaanse regering sal binnekort geen ander keuse hê nie as om ’n “radikale, baie duur” aksieplan in werking te stel om die bedreiging wat suur mynwater aan die Witwatersrand vir die omgewing, mens en dier inhou, te probeer regstel.

Só skryf die Suid-Afrikaanse karst-ekoloog, mnr. Mike Buchanan, in ’n ope brief aan die regering.
Buchanan beskryf die goudmynbedryf se vernietiging van die Witwatersrand se unieke geologie en geohidrologie as die “wêreld se grootste karst-ramp.”

Hy skryf die fossiele in die wêreldberoemde Wieg van die Mensdom by die Sterkfonteingrotte kan “onomkeerbaar beskadig” word weens die suur mynwater wat enkele kilometer daarvandaan uit ’n ou ventilasieskag en ’n boorgat by Harmony se goudmyn na buite borrel.
Buchanan skryf voorts die regering sal moet ingryp omdat dit nie net die onmiddellike omgewing, sy mense en diere is wat daaronder gaan ly as al die myne begin toemaak nie, maar ook die land se “niksvermoedende bure” (Mosambiek).

“Dit sluit in die Krugerwildtuin omdat die suur mynwater die Limpopo- en die Olifantsrivier bedreig deurdat dit daarin gaan begin afvloei.”

Hy wys daarop dat ’n “byekorf” van duisende kilometer myngange aan die Witwatersrand met mekaar verbind. Hier is sowat 200 mynskagte wat ook met mekaar verbind is.

Oopgeboorde leegtes onder Johannesburg en die hele Witwatersrand word deurentyd met water gevul, maar dit word nog deur die enkele operasionale myne halfpad skoon gemaak en uitgepomp.

Een spesifieke bakterie, die Thiobacillus bacteria, in die grondwater vererger die suurgehalte daarvan en dit (benewens die piriet) is verantwoordelik vir die feit dat die water dolomitiese gesteentes wegvreet.

Hierdie organisme is nou verantwoordelik vir die “besoedelde pluime ondergrondse water” wat die riviere rondom Johannesburg besmet het.

‘n Gemiddelde 20 megaliter suur mynwater, wat besoedel is met allerlei swaar metale, vloei nou die afgelope ses jaar daagliks aan die Wes-Rand in die Vaal- en Limpoporivierstelsels in.

Albei dié rivierstelsels verskaf water aan Suid-Afrika se bure, soos Mosambiek.
Buchanan sê hy vind dit vreemd dat die regering steeds meen daar is “geen rede tot kommer nie”. –

Elise Tempelhoff.

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top