Mynbou nalentskap is “rampspoedig”

Mynbou het vir SA groot ekonomiese voorspoed gebring. Die nalatenskap van mynbou in die land was egter tot dusver in ’n groot mate “rampspoedig”.

Platinum is vandag steeds een van die land se grootste verdieners van buitelandse valuta.

Die nalatenskap van mynbou in die land was egter tot dusver in ’n groot mate “rampspoedig”.

“Hierop kan ons nooit trots wees nie. Dit het siek, hopelose mense agtergelaat.”

Mynbou is ook die grootste genereerder van afval, en ou, verlate myne is besig om groot dele van die land te besoedel.

Só het mnr. Tseko Nell, hoofdirekteur: ekonomiese analise van die departement van minerale en energie, namens dié departement se minister, me. Buyelwa Sonjica, gister op die derde Internasionale Seminaar oor Mynsluiting in Fourways, Johannesburg, gesê.

Nell het Sonjica se toespraak aan sowat 300 afgevaardigdes voorgelees. Hy het gesê daar is tans 6 000 ou, verlate myne regdeur die land waarvan die eienaar nie opgespoor kan word nie.

Hy het gesê dié verlate myne rig groot omgewingskade aan en het mense in armoede gelaat.

Dit kos miljoene om die om?gewingsagteruitgang in groot gebiede, veral waar die verlate myne is, te probeer stuit.

“Dít is geld (wat vir rehabilitasie gebruik word) wat sommige mense meen eerder vir kinderwelsyn en armoedeverligting gebruik kon word.”

Dít is egter nie ’n probleem wat uniek aan Suid-Afrika is nie.

Hy het die duisende verlate myne in die land daaraan toegeskryf dat wetgewing voor 1994 nie werklik voorsiening gemaak het vir die regulering van dié bedryf nie.

Die departement van minerale en energie is tans besig om ’n databasis saam te stel van die verlate myne.

Die departement probeer ook om eienaars op te spoor.

Nell het beklemtoon die departement van minerale en energie se wet op die ontwikkeling van minerale, petroleum en hulpbronne (MPRDA) is daarop gemik om te sorg dat die foute van die ver?lede nie herhaal word nie en dat mynsluiting in die toekoms verantwoordelik en volhoubaar sal wees.

Myne sal ook ingevolge ’n nuwe strategie op streekgrondslag moet sluit, het hy gesê.

Een van die grootste uitdagings wat die mynbedryf tans die hoof moet bied, is die sluiting van goudmyne aan die Witwatersrand waar “een groot oopgeboorde leegte” al die myne verbind en veral water ’n groot kopseer is.

In dié gebied is tot op datum 50 000 ton goud geproduseer. Dit is onmoontlik om vas te stel wie nóú vir die rehabilitasie van die gebied en die skoonmaak van suur mynwater verantwoordelik gehou moet word.

Probleme wat onder meer by die Grootvleimyn aan die Oos-Rand ondervind word met suur water wat ondergronds opborrel, kan ernstige nadelige gevolge inhou vir die Blesbokspruit en die Marievale-Ramsar-gebied, asook stroomaf vir die Vaalrivier, het Nell gesê.

Me. Danel van Tonder van die Raad vir Geowetenskappe het daarop gewys dat daar groot kommer bestaan oor die nalatenskap van mynbou aan die Wes-Rand (waar suur mynwater ook uitloop) en die Wonderfonteinspruit aan die Verre Wes-Rand.

“Daar is groot kommer oor die eksternalisering van koste en dat gemeenskappe dit moet dra.”

Sy het gesê in sommige gevalle gaan dit meer kos om ou myne te rehabiliteer as wat die inkomste was wat hulle vroeër vir gemeenskappe gebring het.

Me. Isabel Weiersbye van die Universiteit van die Witwatersrand en voorsitter van die seminaar het gesê myne behoort die sluiting van hul bedrywighede as ’n nuwe geleentheid te beskou.

Die seminaar word vandag voortgesit en eindig Saterdag.

Sonjica is tans saam met pres. Kgalema Mothlante op ’n staatsbesoek aan Indië.

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top