Die Ngonyama Lion Lodge in die ekologies vernietigde Krugersdorp-wildtuin is gister op ’n veiling in Sandton, in die noorde van Johannesburg, vir R17,5 miljoen aan ’n onbekende koper verkoop.
Dié bedrag is onaanvaarbaar, het mnr. Paul Winterstein, direkteur van die afslaers Aucor, ná die veiling gesê.
Volgens hom is dit Beeld (en sy onthullende berigte oor die wildtuin se swak ekologiese toestand) se skuld.
Beeld het verlede week berig die Krugersdorp-wildtuin is ná 120 jaar se mynboubedrywighede ekologies byna vernietig en suur mynwater word voortdurend in die Tweelopiespruit – die enigste waterbron – gestort.
Die sediment in die rivier is radioaktief en besoedel met massiewe hoeveelhede soute, arseen en ’n mengsel van ander swaar metale.
Omgewingskenners verwys na die water in die Tweelopiespruit as “verdunde batterysuur”. Alle lewe in die rivier is reeds vernietig.
’n Emosionele me. Elna Brink, uitvoerende hoof van African Bush Adventure (ABA) wat die wildtuin van Mogale City huur en die lodge bestuur, het gister ná die veiling aan Beeld se joernalis gesê haar berigte het groot skade aangerig.
Van die afslaers het gesê Beeld “vernietig” mense en die koerant verstaan nie die “volle prentjie” nie.
Me. Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO), wat ook die veiling bygewoon het, het gesê die regering en die goudmyne het ’n morele en wetlike plig om die rivierstelsel te herstel.
Sy het gesê die kopers het die lodge nie in “isolasie” gekoop nie. Die rivier wat verbyvloei, die lug en die grond is alles deel van die “groter prentjie”.
Dis nie net die Tweelopiespruit wat besoedel is nie, maar die hele Krokodilrivierstelsel (wat deel van die Limpoporivier is), het Liefferink gesê.
Dit bedreig ook die Sterkfonteingrotte se integriteit omdat die suur mynwater die dolomiet in die omgewing wegvreet.
Winterstein het vroeër gesê die afslaers sou byna R3 miljoen aan kommissie kry. Sy kollegas het gister gesê as Brink die koop goedkeur, sal hulle nou net R1,7 miljoen (of 10% van die verkoopprys) aan kommissie kry.
Mnr. Steve van den Bergh, afslaer by Aucor, het vroeër aan Beeld gesê Brink het nie die volle omvang van die ekologiese probleme aan hulle onthul nie.
Toe Beeld hom daaroor inlig, was sy eerste reaksie: “Dis skokkend.”
Beeld het verneem daar is glo ’n koper wat “aansienlik” meer vir die lodge wil betaal.
Luidens ’n navorsingsverslag van die Raad vir Geowetenskappe beland 100 t sout daagliks in die Tweelopiespruit. WNNR-navorsingsverslae wys die boonste 20 cm van die grond in die omgewing is ook erg besoedel.
Mnr. Dan Mashutusho, munisipale bestuurder van Mogale City (met wie ABA ’n huurooreenkoms het wat eers oor ’n paar jaar verstryk), het gesê hy het die raad se regsverteenwoordigers beveel om die verkoop te ondersoek.