Die Mpumalanga-regering het sy stem dik gemaak oor die Glisa-steenkoolmyn van Exxaro, die land se grootste myngroep in swart besit en een van die “sterre” op die JSE se Volhoubaarheidsindeks.
Die provinsiale departement van omgewing- en ekonomiese sake het die myngroep se aansoek om omgewingsgoedkeuring vir dié myn, wat so groot soos sowat 2 000 rugbyvelde is, Vrydag van die hand gewys.
Exxaro het eers twee jaar gelede om dié goedkeuring en ’n waterlisensie aansoek gedoen, al het dr. Koos Pretorius, voorsitter van die Escarpment Environment Protection Group (Eepog) en direksielid van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO), herhaaldelik vir die maatskappy gesê hul bedrywighede is onwettig.
Luidens ’n brief in Beeld se besit moet Exxaro nou aansoek doen om herstel van die omgewing (’n sogenaamde 24G-aansoek).
Die aansoek gaan ook gepaard met ’n massiewe administratiewe boete en moontlike strafregtelike klagte.
Mnr. Selvy Mohlala, woordvoerder van die departement, kon nie gister sê hoe groot die boete gaan wees nie.
Exxaro myn al agt jaar onwettig steenkool uit vleie naby Belfast in die opvangsgebied van die Steelpoort¬rivier, sytak van die Olifantsrivier.
Intussen het Eepog, die FVO en die Wonderfontein-gemeenskapsvereniging gister ’n beroep op die bestuur van die Volhoubaarheidsindeks (SRI Index) gedoen om Exxaro se naam van die lys te verwyder.
Beeld het Exxaro se onwettige bedrywighede by minstens vyf van sy myne in 2010 onder die aandag van me. Corli le Roux, hoof van die indeks, gebring.
Exxaro myn steeds steenkool uit vleie by Mooifontein sonder ’n waterlisensie of omgewingsgoedkeuring.
Die mynbedrywighede is destyds vir ’n kort rukkie gestaak.
Pretorius het gister gesê die indeks moet aan die mense van Suid-Afrika verduidelik wat ’n maatskappy nog verkeerd moet doen om daarvan verwyder te word.
Hy het daarop aangedring dat Le Roux die riglyne wat die indeks volg, aan die burgerlike samelewing verduidelik.
Exxaro is al etlike jare een van die top 40-maatskappye op die indeks.
Exxaro is in Desember verlede jaar by ’n plegtigheid by COP17 in Durban as een van die indeks se 22 beste presteerders van die jaar aangewys.
Luidens dokumente op die indeks se webtuiste word maatskappye se name daarop geplaas as hulle presteer wat betref omgewingsake en op maatskaplike en ekonomiese gebied.
Le Roux het gister by navraag gesê die indeks sal besluit oor hoe hulle die jongste inligting oor Glisa sal hanteer.
Exxaro het nie op navrae gereageer nie.
Nóg oortredings
Glisa is op die rand van die Siya¬thuthuka-woonbuurt en mense se huise se mure kraak omdat Exxaro gereeld met dinamiet skiet.
’n Hele begraafplaas se grafte is uitmekaar geskiet – dit is ’n oortreding van die erfeniswet.
’n Ondergrondse gebied wat Siyathuthuka en ’n deel van Belfast insluit, het aan die brand geraak