Hof straf mynhuis

Anker Kole, ’n Nederlandse steenkoolmynhuis, is in die Ermelo-streekhof met R304 000 beboet omdat sy werknemers en konsultante tydens prospektering ’n vlei op die plaas Steenkoolspruit in die Usuturivier beskadig het.

Dit is die eerste keer sedert omgewingswetgewing in 1998 in werking gestel is dat ’n mynhuis ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema), die Waterwet en die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleum-hulpbronne (MPRDA) skuldig bevind en gestraf is.

Anker Kole is op drie aanklagte skuldig bevind en met R304 000 beboet waarvan R150 000 vir vyf jaar opgeskort is.

Die mynhuis moet R80 000 aan die Mpumalanga Parke- en Toerisme-agentskap (MPTA) se kantoor in Lydenburg betaal sodat hy kan toesien dat die vlei gerehabiliteer word.

Anker Kole moet ook ’n vleilandspesialis betaal om ’n peiling te doen van die skade aan die vlei. Anker Kole moet die vleilandspesialis vir die vlei se “rehabilitasie” betaal.

Die mynhuis moet ook R144 000 aan dr. Colin Forbes, eienaar van die plaas Steenkoolspruit, betaal vir die skade aan sy grond.

Die klagte teen Anker Kole is langer as ’n jaar gelede deur die omgewingsorganisasie Highveld Headwaters Protec-tion Group (HPHG) aanhangig gemaak.

Dr. Koos Pretorius van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing en woordvoerder van die HPHG het gister in reaksie op die skuldigbevinding en vonnis gesê dit is ’n keerpunt.

Hy het gesê dat ’n groep gewone mense, waarvan die meeste boere is, die saak aanhangig gemaak het, terwyl dit eintlik die plig van die departement van minerale hulpbronne was.

Hy het gesê tydens die ondersoek was dit duidelik die departement het alles in sy vermoë probeer om die saak te ontspoor.

Anker Kole se toekoms lê nou in die hande van die departement, het Pretorius gesê.

Me. Zingaphi Jakuja, woordvoerder van die departement, kon nie per telefoon, SMS of e-pos bereik word vir kommentaar nie.

Mnr. Charles Lloyd, staatsaanklaer, het gesê ’n lasbrief vir die arrestasie van mnr. Grey Venter van ACS Drilling is uitgereik omdat hy nie vir hofverskynings opgedaag het nie.

Hy het glo in opdrag van Anker Kole die prospekteergate 10 m van die Usuturivier geboor.

Ingevolge die Waterwet mag geen gate binne 100 m van ’n vlei, pan of rivier geboor word nie. Anker Kole en die staat het ’n pleitooreenkoms bereik wat bygedra het tot strafversagting vir Anker Kole.

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top