‘Nog bloed kan vloei in waterstryd’

JOHANNESBURG. – Die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO) het ’n beroep op die Menseregtekommissie (MRK) gedoen om dringend met ’n ondersoek te begin na die knaende watertekorte waarmee gemeenskappe buite Brits en by Pilanesberg in Noordwes al maande lank worstel.

Vier mense het die afgelope weke hul lewe in geweld oor watertekorte in Mothutlung en Damonsville verloor.

Mariette Liefferink, direkteur van die FVO, het gesê dis hoog tyd dat die MRK ingryp omdat mense en platinummyne nou in dié gebied – die Krokodil-Wes/Marico-waterbestuursgebied – om dieselfde waterbronne meeding.

Liefferink het in ’n verklaring gesê mense loop kilometers ver om water te gaan haal omdat hul krane al maande lank droog is, terwyl die platinummyne onverpoos voortgaan om skoon water in hul prosesse te gebruik. Verskeie lodges in die Pilanesberggebied is tans ook sonder water.

Sy het gewaarsku as die huidige stryd oor waterregte in dié gebied nie spoedig besleg word nie, dit tot verdere bloedige konflik gaan lei. Volgens Liefferink het sy die departement van waterwese telkens in die verlede gewaarsku om nie “links en regs” waterlisensies aan die platinummyne in die gebied toe te staan sonder om eers na die behoeftes van die inwoners te kyk nie.

Volgens Liefferink help dit dus nie net om waterinfrastruktuur wat verouder is op te knap om konflik te vermy nie, maar moet daar ook drasties gekyk word na die beskikbaarheid van water.

Intussen het die DA die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, gister versoek om ’n landwye oudit te doen na die toestand van Suid-Afrika se waterinfrastruktuur, terwyl die VF+ gister ’n klag teen die Mangaung-metro by die Verbruikerskommissie aanhangig gemaak het. Verskeie skole in Mangaung (Bloemfontein) het gister hul deure gesluit omdat hul krane droog was. Groot dele van dié stad sukkel al maande lank met watertoevoer.

News24 en Eyewitness News het berig Edna Molewa, minister van waterwese het gister gesê die probleme met watervoorsiening in gebiede reg oor die land kan “maklik” opgelos word omdat dit aan “nietige kwessies” te wyte is.

Die gemeenskappe buite Brits het Molewa tot Vrydag kans gegee om hul watertoevoer te laat herstel. As dit nie gebeur nie, sal hernude protesaksies begin.

Mava Scott, woordvoerder van die departement van waterwese, het in ’n verklaring gesê “ ’n derde waterpyp” van 600 mm is reeds na die waterbron van die geaffekteerde gebiede in Madibeng geïnstalleer.

Marietjie Gericke berig uit Bloemfontein dat geen einde nog in sig is vir die waternood wat duisende inwoners in die noorde van die stad sedert Vrydag teister nie.

Teen gistermiddag was al agt opgaardamme in die noorde van die stad bykans dolleeg.

Professionele duikers wat deur die Mangaung-metro gehuur is, gaan vanoggend probeer om die verstopte sluise by Mockesdam te probeer oopmaak sodat Maselspoort vinniger water kan kry.

Slegs een waterpomp is by Maselspoort beskikbaar om water te onttrek, maar die pomp is gisteroggend ná 20 minute afgeskakel uit vrees dat dit gaan uitbrand omdat die watervlakke van die Maselspoortdam nog te laag is.

www.dieburger.com

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top