Myndorpie vasgevang in stof-hel

Blyvooruitsicht. – “Dis hel in dié dorp. Ons kan nie asemhaal nie. Alles wat ons eet, is vol giftige mynsand.”

So het Paulo de Gouveia, ¬mede-eienaar van ’n winkel¬sentrum in dié byna verlate myndorpie, gesê ná ’n noodvergadering verlede week in ¬Carletonville met amp¬tenare van die Merafong- plaas¬like owerheid, die mynbestuur en ’n afvaardiging van die departement van minerale bronne.

De Gouveia, sakelui en inwoners het ’n beroep op dié plaas¬like owerheid (wat Blyvooruitsicht, Fochville en Carletonville bedien) gedoen om in dié “onhoudbare situasie” in te gryp.

Beeld verneem die Blyvooruitsicht-myn het aansoek gedoen om hom te laat likwideer. Alle mynbedrywighede is gestaak.

Vroeër het die mynbestuur die reuse-mynhoop met water natgegooi om die stof te beheer, maar sedertdien is dít ook gestaak.

Meer as 40 000 mense woon in die omgewing van dié massiewe mynhoop.

Wynand Nortjé, mynbestuurder van die Blyvooruitsicht-myn, het geweier om met die vergadering voort te gaan as Beeld dit sou bywoon.

Hy het ook geweier om kommentaar te lewer op die beskuldigings dat die myn se afval¬hope die lewe vir die inwoners ondraaglik maak.

’n Afvaardiging van die departement van minerale bronne het na verneem word op die vergadering onderneem om ’n “dringende” myninspeksie te doen.

Hulle moet voor 6 Desember aan die gemeenskap verslag doen. Desiree Barreiro, eienaar van die Kwikspar in die dorp, het gister gesê mense wil nie eens meer kos by haar kruidenierswinkel koop nie.

As die wind waai, is alles toe onder spierwit stof.

“Ek is bekommerd oor my eie én my klante se gesondheid. Ek kan hulle nie kwalik neem as hulle nie hier kos wil koop nie,” het sy gesê.

De Gouveia, wat pas die Blyvoor-omgewingsaksiegroep in die lewe geroep het, het gesê daar is meer as 40 metale in die mynstof. Een daarvan is uraan.

Hy gaan dit nou in ’n laboratorium laat ontleed.

Luidens die Waternavorsingskommissie se sogenaamde 1214– verslag lê daar 430 000 ton uraan op die ou goudmynhope aan die Wes- en Verre-Wes-Rand.

Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, wat ook die noodvergadering bygewoon het, het gevra dat die Nasionale Kernreguleerder betrokke raak.

Dit kan wees dat die mense radioaktiewe partikels en radon-gas inasem, het sy gesê.

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top