’n Direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO) én ’n inwoner van Belfast het eergister afsonderlik klagte teen Exxaro se Glisa-steenkoolmyn buite die dorp by die polisie ingedien.
Glisa is in die opvangsgebied van die Steelpoortrivier, sytak van die Olifantsrivier geleë.
Dr. Koos Pretorius, direkteur van die FVO, sê in ’n beëdigde verklaring hy het die klag teen Exxaro ingedien omdat hy daarvan oortuig is dié myngroep verontagsaam omgewingswetgewing. Hy meld dat Exxaro etlike jare lank sonder ’n waterlisensie by dele van Glisa myn en dat die myngroep ook geen omgewingsgoedkeuring vir sekere van hul aktiwiteite het nie.
Maria Dube, inwoner van Belfast, het Maandagmiddag ’n klag van opsetlike saakbeskadiging teen Exxaro aanhangig gemaak weens die beweerde beskadiging van 32 grafte wat in Glisa se myngebied geleë is. Die Dube-familie weier dat die grafte geskuif word. Glisa het glo onderneem om nie die grafte te beskadig nie, maar dit toe wel glo stukkend geskiet.
Dube sê sy en haar gesin sukkel al jare lank dat Exxaro die grafte herstel.
Sy het besluit om ’n saak van opsetlike saakbeskadiging teen Exxaro in te dien sodat die hof hulle kan dwing om dit te herstel.
Pretorius sê hy is genoodsaak om die klag aanhangig te maak omdat die regering (die Groen en Blou Skerpioene) hul plig versuim om wetgewing by myne toe te pas.
Volgens Pretorius myn Exxaro onder meer in vleie en het hulle van 1998 tot 2006 nie ’n waterlisensie gehad nie en eers in 2010 daarvoor aansoek gedoen.
Glisa het onlangs ingevolge die Omgewingsbestuurswet (NEMA) vir sekere gelyste aktiwiteite goedkeuring gekry, maar die FVO het appèl daarteen aangeteken omdat dit goedgekeur is lank nadat die aktiwiteite reeds begin het.
Pretorius het gesê as Exxaro skuldig bevind word, sal hy die hof vra om ’n bevel te maak dat dié myngroep nooit weer enige mynreg op enige plek in die land kry nie.
Hy vra ook dat die direkteure van Exxaro vervolg word omdat hulle “deeglik bewus is” van die “oortredings”.
Hilton Atkinson, Exxaro se woordvoerder, sê hulle neem kennis van die klagtes.
Hy sê die saak is sub judice en daarom kan dié maatskappy nie nou reageer nie.
– Elise Tempelhoff