Staat wil R2,5 m. bestee op reklame

PRETORIA. – Die departement van minerale hulpbronne gaan tot einde April R2,534 miljoen bestee aan bemarkingsveldtogte vir onder meer die omstrede nuwe mynbouregulasies.  Dit sluit regulasies vir skaliegas in.

Dít blyk uit ’n antwoord op ’n parlementêre vraag deur die DA aan die minister van dié departement, Susan Shabangu.
Die Nasionale Vergadering (NV) het wysigings aan die mineraalwetgewing sowat tien dae gelede goedgekeur.
Die DA het gister gedreig om die nuwe mineraalwet na die konstitusionele hof te neem indien pres. Jacob Zuma dit onderteken.
“Dié wet en die proses wat gevolg is, is ongrondwetlik,” het James Lorimer, DA-LP en -woordvoerder oor minerale hulpbronne, gesê.
Dr. Koos Pretorius, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, het gesê dié departement mors belastingbetalersgeld. “Die minister wil besluite wat eensydig geneem is en wette wat reeds goedgekeur is, nou met hierdie geld bemark. Dis mosterd ná die maal.”
Hy sê dié geld moes eerder bestee word aan openbaredeelnameprosesse waar die wysigings aan die mynbouwet op ’n demokratiese wyse met die mense van Suid-Afrika gedebatteer is. Dit is nie gedoen nie.
Lorimer het gesê as die Nasionale Raad van Provinsies dié wet later vandeesweek goedkeur, sal die DA ’n versoekskrif aan pres. Jacob Zuma rig om dit nie te onderteken nie.
Indien hy nie gehoor gee nie, sal die wysigingswet in die Grondwethof eindig.
Lorimer het gesê die wysigings is deur die NV “gestoomroller”.
Pretorius het gesê vir die burgerlike samelewing is een van die grootste knelpunte in die nuwe mynbouwet die feit dat belanghebbende partye soos bewaringsorganisasies nie meer kan registreer om aan die omgewingsimpakproses oor nuwe projekte deel te neem nie.
Shabangu het gesê die departement beplan om R154 000 se advertensies oor die wetgewing vir die gedrukte media, radio en sosiale platforms te bestee.
Die departement gaan ook R94 000 bestee aan baniere en R60 000 aan “generiese promosie-artikels” (wat vermoedelik pette en T-hemde sal insluit).
Jonathan Deal, voorsitter van Treasure the Karoo Action Group, het gesê as Shabangu belastingbetalersgeld gaan gebruik om die sogenaamde voordele van skaliegas te bemark om mense se koppe positief te swaai, sal sy voor stok gekry word.
Indien sy mense egter in die “pamflette” oor die voor- en (baie) nadele van skaliegas inlig, sal die geld goed gebruik word

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top