OB genader oor myne wat mors met water

Daar is nou 48 myne in die land sonder waterlisensies.
“Die name van ’n klomp myne wat ernstige omgewingsoortredings begaan het en jare sonder ’n waterlisensie gemyn het, het skielik van die lys verdwyn. Is hul sondes nou vergewe?”

So het Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO), Vrydag gevra nadat dié nuwe lys van “oortreders” deur Nomvula Mokonyana, minister van waterwese en sanitasie, vandeesweek bekend gemaak is.
Mokonyana het dié lys bekend gemaak nadat James Lorimer, DA-skaduminister van minerale bronne, ’n skriftelike vraag daaroor gevra het.
Die meeste myne op die lys is sandmyne in die Noord-Kaap en net vier is steenkoolmyne in sensitiewe, waterryke gebiede in Mpumalanga.
In 2010 was daar 104 myne sonder waterlisensies. Die meeste hiervan was dié van steenkoolmyne in Mpumalanga wat in panne en vleie in veral die opvangsgebied van die Olifants- en Vaalrivier gemyn het.
Liefferink het gesê daar is ’n myn naby die Pilanesberg-natuurreservaat wat riviere verlê het en byna vyf jaar lank sonder ’n waterlisensie platinum uitgehaal het.
“Het hulle skotvry daarvan afgekom?” het sy gevra.
Alet Swanepoel, voorsitter van die Marikana Ecoforum, het gesê sy het alle vertroue in die departement van waterwese verloor.
 “Baie van hierdie myne in Noordwes het waterlisensies, maar dit is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.”
Liefferink het gesê sy meen sodra ’n myn negatiewe publisiteit kry oor omgewingsoortredings, word lisensies “gou” uitgereik.
“Dit is om hierdie rede dat die FVO die openbare beskermer genader het.
“Ons meen daar is ’n sistemiese mislukking binne die departement van waterwese om wetgewing toe te pas,” het sy gesê.

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top