Myne in 41 riviere in SA bedryf

Die departement van water en sanitasie het die afgelope drie jaar toegelaat dat mynhuise in 41 riviere, tien vleie en drie panne vir hoofsaaklik steenkool in Mpumalanga myn.  Dit wek koommer dat dit toegelaat word.

Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, het in ’n skriftelike antwoord op ’n vraag van die DA gesê die meeste van die mynbedrywighede het die afgelope drie jaar plaasgevind.

Leon Basson, die DA se woordvoerder oor water en sanitasie wat die vraag gevra het, het gesê dit is kommerwekkend dat Mokonyane toelaat dat in Suid-Afrika se waterbronne gemyn word. “Sy moet kom verduidelik waarom dít nodig is.”

Paul Fairall, vleiland- en omgewingskundige, het gesê dit is “absurd en skokkend” dat

Mokonyana – wat die land se water moet bewaar – toelaat dat riviere, vleie en panne vernietig word.

“Hoe kan die departement van water toelaat dat die land se water vir steenkool en platinum opgemyn word?”

Op Mokonyane se uitlating dat dié mynmaatskappye aan baie streng vereistes moet voldoen en die omgewing ná afloop van hul bedrywighede moet herstel, het Fairall gesê dit is onmoontlik om ’n waterbron te rehabiliteer. Sulke pogings kos miljarde rande, meer as wat die minerale ooit werd kan wees, het hy gesê.

Van die panne wat gemyn word, is miljoene jare oud en daar was lewe daarin. “Die mens het dit nog nooit reggekry om lewe te herskep nie.”

Fairall meen daar is tien keer meer riviere wat gemyn word as waarvan Mokonyane weet.

Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO), het haar stem by dié van Fairall gevoeg en gesê die Blou Sker­pioene kyk weg, al weet hulle daar is meer as 100 mynmaatskappye wat onwettig in waterbronne myn.

“Dit is uiters betreurenswaardig dat Mokonyane en haar voorganger, Edna Molewa (nou minister van omgewing­sake), toelaat dat die land se kosmandjie – Mpumalanga en ’n deel van Noordwes – opgemyn word.”

Liefferink het gesê sy twyfel of die regering besef bewaarde gebiede, soos die Krugerwildtuin en die Pilanesberg-natuurreservaat, word regstreeks baie negatief deur dié mynbedrywighede geraak.

Toerisme is volhoubaar, mynbou in sensitiewe gebiede nie. “Die regering is besig om toerisme te vernietig,” het sy gesê.

Basson het gesê die DA is vasbeslote om navorsing te doen en vas te stel hoeveel van die mynmaatskappye wat waterlisensies gekry het om in sensitiewe gebiede te myn eers met hul bedrywighede begin en daarna ’n lisensie gekry het.

“Ons vermoed daar is baie.”

Dié waterbronne word geraak

Van die riviere wat gemyn of geskuif mag word, is 26 in Mpumalanga, tien in Noordwes, twee in Limpopo, twee in Gauteng en een in die Noord-Kaap.

In die Olifantsrivier, wat deur die Krugerwildtuin loop:

     ’n Sytak van die Bronkhorstspruitrivier by Delmas (Exxaro);
    Die Saaiwaterspruit (Anglo American) en sy sytakke (BHP Billiton);
    Die Groot Dwarsrivier en sy sytakke (Northam Platinum);

    Die Olifantsrivier, Vlaklaagte­rivier, Wilgerivier, Saalkapspruit, Holfonteinspruit en Klipfonteinspruit (Anglo Coal);
    Die Selonsrivier (Vuna en Carbon Development Corporation)
    Die Arendsfontein, Coetzerspruit, Woestalleen en Vaalbankspruit (Optimum);
    ’n Onbekende sytak van die Olifantsrivier (Total Coal South);
    ’n Sytak van die Leeuwfonteinspruit (Umcebo);
    Die Tweefonteinspruit en Moolmansrivier (Xstrata); en
    Zwakspruit (Sasol).

In Gauteng:

    Die Grootspruit, Wolwespruit, Ouhoutspruit en Kaalspruit (Sasol).

In Noordwes:

    Motlhabe in die opvangsgebied van die Groot-Maricorivier (Platmin);
    Die Klipfonteinspruit (Anglo Platinum);
    Elandsdrift en Modderspruit (Lonmin); en
    Sterkstroom (Tharisa Mining).

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top