Hare wys dalk uraangevaar

Die antwoord op uraanbesmetting in die Wonderfonteinspruit en Soweto lê moontlik opgesluit in mense se hare.

 

Die Internasionale Agentskap vir Kankernavorsing (IARC), ’n spesialiseenheid binne die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het in samewerking met die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO) en die Mynwaternavorsingsgroep by die Noordwes-Universiteit met ’n aanvoorstudie begin om te probeer vasstel of uraan opgehoop het in die hare van mense wat in gebiede rondom goudmynhope woon.

Mariette Liefferink, direkteur van die FVO, het gister gesê geen epidemiologiese studie oor die invloed van goudmynbedrywighede op menslike gesondheid bestaan in Suid-Afrika nie.

“Hierdie is die eerste stap om vas te stel wat in die liggaam gebeur wanneer mense jare lank aan die uraan in goudmynhope blootgestel is.

“As die laboratoriumtoetse wys uraan het wel in mense se hare opgehoop, sal die navorsing moontlik voortgaan in ’n volwaardige epidemiologiese studie.”

Die FVO versamel tans meer as 800 haarlokke. Die hare word gekry van agt haarkappers wat ingestem het om aan die studie deel te neem.

Vier van die haarkappers is in gebiede rondom goudmynhope (Diepkloof, Azaadville, Mindalore en Kagiso) en vier in kontrolegebiede (Randburg, Lenasia, Lau­dium en Alexandra).

Volgens Liefferink word elkeen wie se hare deel van die studie vorm, ingelig en moet hulle daartoe instem. Deelnemers sal egter nooit weet wat die uitslag van die studie is nie omdat hul name nie op die koeverte aangebring word waarin hul hare verpak word nie.

Die plek waar die hare vandaan kom en of dit dié van ’n vrou of ’n man is, sal wel op die verpakking aangedui word.

Sodra al die haarlokke ingesamel is, sal dit by drie verskillende laboratoriums getoets word, in Mahikeng, Frankryk en Duitsland.

Liefferink sê die FVO versamel tans ook haarlokke van tradisionele helers en mense wat in suurmynwater gedoop word, asook dié van mense wat weens geloofsgebruike sand van goudmyne aan hul gesigte smeer.

Die haarlokke sal einde Februarie aan die IARC gestuur word vir verspreiding na die verskillende laboratoriums.

. Die Nasionale Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het in 2012 begin met die versameling van verstandtande in Potchefstroom en Ventersdorp (as kontrolegebied) in ’n poging om ’n soortgelyke studie te doen. Kansa het by navraag gesê die studie is nog nie afgehandel nie.

Related Posts

Begin typing your search term above and press enter to search. Press ESC to cancel.

Back To Top