Drie direkteure van die Blyvooruitzicht- en Village Main Reef-goudmyn buite Carletonville kan ’n boete van tot R10 miljoen of tien jaar tronkstraf opgelê word weens die beweerde besoedeling en agteruitgang van die omgewing.
Dalubuhle Ncube, Paul Marius Saaiman en Mark Burrell moes Vrydag in die streekhof in Merafong verskyn, maar het nie opgedaag nie.
Die saak is op versoek van die staat tot 21 Julie uitgestel sodat die naam van nog ’n mynmaatskappy in die omgewing of sy direkteure by die klagstaat gevoeg kan word.
’n Lasbrief vir die inhegtenisneming van Ncube, Saaiman en Burrell sal op daardie dag uitgereik word as hulle nie by die hof opdaag nie. Die drie is aangekla van 11 oortredings van omgewingsbestuurswetgewing en die Wetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne.
Omgewingsregkenners meen die saak kan ’n presedent skep vir die direkteure van mynmaatskappye wat ’n myn laat likwideer in ’n poging om die verantwoordelikheid te ontduik om die gebied te rehabiliteer.
Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, het in Februarie 2014 strafregtelike klagte teen die direkteure van DRD Gold en Village Main Reef by die polisie in Carletonville aanhangig gemaak weens die besoedeling van die omgewing.
Die Groen Skerpioene het die mans verlede maand aangekla.
Hulle word onder meer daarvan beskuldig dat hulle die Wonderfonteinspruit met massiewe hoeveelhede uraan (wat in die mynafval teenwoordig is) besoedel het. Die Wonderfonteinspruit vloei deur die Gerhard Minnebron (’n waterbron) in die Mooirivier waaruit Potchefstroom sy water kry.
Hulle is glo deur die owerheid beveel om die mynafval op te ruim, maar het dit nie gedoen nie.
Die direkteure het na bewering van Junie tot Oktober 2014 geen stofkontrole gedoen nie en hul omgewingsbestuursplan telkens oortree. Luidens die klagstaat meen die departement van minerale bronne dit sal sowat R143 miljoen kos om die omgewing te rehabiliteer.
Luidens ’n brief wat in Augustus 2013 aan die beskuldigdes geskryf is, was daar ’n tekort van sowat R108 miljoen in die mynhuise se rehabilitasiefonds. Die tekort is na bewering nooit aangevul nie. – Elise Tempelhof
Elise Tempelhoff