LUR tree in bres vir ‘fabrieke van water’
Pinky Phosa, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, is gister wyd geloof vir die feit dat sy “twee water¬fabrieke” in Mpumalanga tot bewaringsgebiede geproklameer het.
Die een is by Wakkerstroom en die ander by Chrissiesmeer.
’n Kennisgewing van die proklamasie het eergister in die provinsiale staatskoerant verskyn.
Dit kom ná ’n stryd van vier jaar deur ’n koalisie van bewaringsorganisasies en die Mpumalanga-toerisme-en-parke-agentskap (MTPA).
Die organisasies, waaronder Birdlife SA, die Wêreldnatuurfonds (WWF) en die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) het hande gevat met die MTPA om die gebiede bewaar te kry nadat verskeie mynhuise aansoek gedoen het om daar na steenkool te prospekteer en te myn.
Dr. Koos Pretorius, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, het Phosa geloof vir die feit dat die gebiede nou bewaringstatus het. Dit gaan volgens hom ’n dilemma vir Susan Shabangu, minister van minerale bronne, skep omdat sy reeds die mynaansoeke van tientalle steenkoolmynhuise daar aanvaar het.
Dié mynhuise het geweet die bewaringsorganisasies is besig met ’n proses van proklamering, maar hulle het nogtans voortgegaan met hul aansoeke en gepaardgaande prosesse. Hulle gaan waarskynlik nou baie geld verloor, het Pretorius gesê.
Met die proklamasie is sowat 73 000 ha van die waterrykste gebiede in Suid-Afrika by bestaande bewaringsgebiede in Mpumalanga gevoeg.